Harties NG se geskiedenis
Ons gemeente het ontstaan, nadat Wesmoot gemeente in 1973 van Daspoort (wat die hele gebied vanaf die Apiesrivier in Pretoria tot by die Hartbeespoortdam beslaan het) afgestig het en ons weer in 1974 van Wesmoot gemeente afgestig het. Die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Hartbeespoort het ontstaan as gevolg van die vinnig, groeiende gemeenskap en die ontwikkeling van die Atoom Energie Korporasie. Met die afstigting was daar ongeveer 320 lidmate. Vanaf die afstigting in 1974 tot en met 1979 het die gemeente gegroei tot 703 lidmate. Ons lidmaattal in 2022 is tans 1663, waarvan 1178 belydende lidmate en 485 dooplidmate is.
Die volgende leraars bedien Harbeespoort NG Gemeente vanaf 1973:
Ds. AC Viljoen: Feb 1974 – Feb 2008
Ds. CJJ Joubert: Jan 1983 – Feb 2010
Ds. JCK du Plooy: Jun 1987 – Feb 1993
Ds. J Strydom: 1994 – 1997
Ds. A van Zyl: 2008 – 2010
Prop. S van den Heever: 2009 – 2011
Ds. JF Pienaar: Sept 2010 – Jul 2011
Ds. J de Wet: Aug 2011 –
Andria De Lange was vir vyftien jaar die saakgelastigde van die gemeente en saam met Andria het eers Martie Scheepers en later Amanda Groenewald ook in die kerkkantoor gewerk. Chris Smit en Sakkie Cronje dien in hierdie tye as ons kosters. Sakkie verhuis egter in 2013 en Danie Marais word as permanente koster aangestel. Die kerk se aktiwiteite word stelselmatig meer en nog personeel word in diens geneem. Die volgende poste word voltyds gevul: 2011: Marianne de Wet (kommunikasiebeampte), 2013: Ds. Johann Joubert word aangestel as deeltydse leraar met die opdrag: versorging. Monique Faure (jeugkoördineerder), Pieter Brynard (administratiewe bestuurder) en Sinah Rabaji (evangelis) word ook in hierdie jaar aangestel. In 2016 word die saakgelastigepos verdeel en word Elize Hayes as kassiere aangestel en Andria de Lange word in die skribapos aangestel. In 2019 tree Andria af en Angie van Tonder word ons skriba. In 2020 verhuis ons jeugkoördineerder en prop. Berenice Esterhuysen tree vanaf Jan 2020 tot einde Januarie 2022 as jeugbedienaar op. Na haar bedanking, word Elizma van der Merwe op 1 Maart 2022 as jeugkoördineerder aangestel.
Die bestaande pastorie is in 1973 gebou en in gebruik geneem, maar nadat prop. Simon vertrek het, is die pastorie in kantore omskep. Met die koms van ds. Johan de Wet is die pastorie na byna veertig jaar vermoderniseer en weer volledig as pastorie in gebruik geneem. Die huidige kerkgebou is op 24 November 1979 ingewy, terwyl die saal in Mei 2004 voltooi is. Daarna is nog ‘n saaltjie aangebou vanwaar die Voetekerk(voorskoolse kleuters) bestuur en aangebied word. In 2012 is die saal opgegradeer: die saal is met ‘n muur in twee verdeel, sodat die junior kategese, Harties Juniors, se twee fases (junior en senior) afsonderlik in klassies kan verdeel. Plafonne is ingesit, volvloermatte is gelê en uitstekende klanktoerustig met ‘n dataprojektor is in elke saal beskikbaar. Die sale is meerdoelig: op Sondagoggende en -aande, dien dit as kategeselokale, maar tydens die week en op Saterdae word vergaderings daar gehou, bedieninge se funksies word hier aangebied en al ons gemeentefunksies soos skaapbraaie, basaars en kersmarkte vind ook hier plaas.
In 2014 word ‘n groot afdak teen die saal aangebou en so ontstaan ‘n heerlike kuier- en bedieningsruimte vir die gemeente. Sondae na die erediens word tee hier bedien en kry bedieningsleiers geleentheid om hulle bedieninge te bemark. Die nuwe intrekkers word hier ontvang en bederf en die inligtingstoonbank word ook hier beman. Tans word ‘n kuierplek met braaifasilieite en aparte “lokale” (meerdoelig: verkoopslokale vir die mark, maar ook lokale vir die jeug) tussen die pastorie en die kerk operig.
Aanvaklik bedien ons gemeente hoofsaaklik lidmate wat almal by die destydse Pelindaba werksaam was. Teen 1982 maak die wapenfabriek ‘PMP’ in ons omgewing oop en baie van die werkernemers kom woon in Melodie. Die ontdekking van vanadium en platinum in die gebied tussen Brits en Rustenburg, het weer ‘n invloed op ons gemeente met die ontwikkeling van nog nuwe behuisingskemas deur die myne hier op Hartbeespoort. Brits brei verder uit met nywerhede soos ATC, Firestone en Alfa-motorvervaardigers.
Deesdae kom ons nuwe intrekkers Hartbeespoort toe om God se mooi skepping te kom geniet. Baie van ons lidmate bly hier in die platteland, maar werk in die ‘groot stad’ (Sandton, Fourways en Pretoria) net om die draai. Met die tyd verander ons gemeentelede van hoofsaaklik akademici na ‘n werklik, diverse samelewing en gemeente. Soos ons gemeente oor die jare verander, verander ook ons behoeftes.
Die een ding wat egter nooit verander nie, is God se liefde vir sy kinders hier op Hartbeespoort. Hier in die skadu van die Magaliesberge, met van die mooiste landskap voor ons, leef, werk en getuig ons in en van God se genade.