Erediens vir volwasse, belydende lidmate
Die fokus van ons erediens is ‘n ware ontmoeting tussen God en sy kinders. Daarom fokus ons op ware aanbidding en die opregte bediening van die sakramente as geloofversterking vir elke kind van God. Die Here stap ‘n besondere, diep pad met sy kinders en daarom is die prediking nie losstaande gedagtes nie, maar word daar tydens elke kwartaal sekere temas hanteer.
Ons lofprysing en aanbidding vorm ‘n baie groot deel van ons erediens en die eerste twintig minute van die diens word gewy aan ware aanbidding en lofprysing, voorgegaan deur ons leraar en die aanbiddingspan. Ons gemeente maak gebruik van die orrel sowel as klavier, ghitaar, viool en soms ook ander instrumente as begeleiding.
Belangrike Simbole
Simboliek is ook vir ons baie belangrik om bepaalde geloofsmomente te vestig en daarom is daar heelwat simbole binne ons aanbiddingsruimte:
Die Kruis
Sekerlik die simbool wat die kern van ons geloof vasvat: Johannes 3:16 “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”
‘n Fontein
Met lopende water: die simbool van die nuwe lewe en die lewende water wat uit ons binneste sal vloei. Joh 7:38 “Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.”
‘n Gebreekte Erdekruik
Met ‘n lig wat van binne skyn: 2 Kor.4:7: “Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.”
Die Duif
As simbool van die uitstorting van die Heilige Gees. Titus 3:6: “God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser.”
Die Nagmaalstafel
Die nagmaalstafel is ‘n teken van die heilige sakrament van die Nagmaal. Die nagmaalstafel herinner ons aan die liggaam en die bloed van Christus, wat geoffer is om my vry te koop en my die ewige lewe te laat beërwe.
‘n Jaarlikse Tema
2024 : Staan Verwonderd
Staan Verwonderd” laat ‘n magdom emosies en gedagtes in ‘n mens se siel loskom. Ons STAAN VERWONDERD oor God se genade: ons verlossing en vryspraak, die voorreg van ‘n ewige trooster en begeleier- die Heilige Gees. Ons STAAN VERWONDERD oor die verwagting en vooruitsig van ons erfenis in Christus: die Ewige Lewe. Ons STAAN VERWONDERD oor God Drie-Enig se onuitspreeklike goedheid: my huweliksmaat, my kinders, my gesondheid, my finansies, die natuur… Ons STAAN VERWONDERD om God se kind genoem te mag word!
Voetekerk
(Sondae 09:00 in die Voetekerklokaal)
2.5 jaar
Die Voetekerk fokus op die kleuters tussen 2.5 en 6 jaar. ‘n Koördineerder met ‘n span ouers maak beurte om elke Sondag baie sinvolle lessies met aktiwiteite vir die kleindgoed op hulle vlak aan te bied. Die lokaal is pragtig ingerig en daar is ook ‘n buitespeelruimte waar die kinders onder toesig kan speel, nadat die formele lessie afgehandel is.
6 jaar
Juniorkerk
(Sondae 09:00 in die Jeugsentrum)
Die Juniorkerk word in die jeugsentrum aangebied vir alle kinders vanaf graad 1 tot graad 6. Hulle open gesamentlik waar die elemente van ‘n gewone erediens soos lofprysing en aanbidding, belydenis en Woord aan hulle gebring word deur ‘n leraar en jeugkoördineerder. Daarna verdeel hulle in gradegroepe, waar ‘n mentor hulle begelei om deur ‘n aktiwiteit die boodskap uit die Woord vas te lê.